5. Van die vergadering van die seuns van Yisra’el moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer vat.
6. Aharon moet die sondofferbul wat vir hom bedoel is, naderbring en vir hom en sy huis toedekking doen.
7. Hy moet ook die twee bokke vat en hulle voor יהוה, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, aanbied.
8. Aharon moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir יהוה en een lot vir `Az’azel (bok vir totale verwydering).
9. Aharon moet die bok waarop die lot vir יהוה gekom het naderbring en hom as sondoffer offer.
10. Die bok waarop die lot vir `Az’azel gekom het, moet lewendig voor יהוה aangebied word, om daardeur toedekking te doen, deur hom, as die bok vir volledige verwydering, die wildernis in te stuur.
11. Aharon moet die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat naderkom en vir hom en sy huis toedekking doen: hy moet die bul as sondoffer doodmaak vir homself.
12. Hy moet ’n vuurpan vol brandende kole van die altaar voor יהוה vat, met sy twee hande vol fyn gestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die verdelingsgordyn bring.
13. Hy moet die reukwerk op die vuur sit voor die Teenwoordigheid van יהוה sodat die wolk van die reukwerk die Toedekking wat op die Getuienis is, kan toemaak sodat hy nie sterf nie.
14. Hy moet van die bloed van die bul vat en dit met sy vinger op die Toedekking aan die oostekant sprinkel en voor die Toedekking moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.
15. Hy moet die bok van die sondoffer doodmaak wat vir die volk bedoel is en sy bloed binnekant die verdelingsgordyn bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die Toedekking en voor die Toedekking.