Levitikus 14:18-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Die res van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die kop, van hom wat gereinig word, gooi. So moet die priester vir hom toedekking doen voor die Teenwoordigheid van יהוה.

19. Die priester moet ook die sondoffer offer en vir hom wat gereinig word, toedekking doen, weens sy onreinheid; daarna moet hy die brandoffer slag.

20. Die priester moet die brandoffer en die graanoffer op die altaar offer. So moet die priester vir hom toedekking doen en hy sal rein wees.

21. As hy egter te arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy een lam as oortredingsoffer vat om gewaai te word, om vir hom toedekking te doen; saam met een tiende van ’n efa fyn meel met olie gemeng as graanoffer, ’n log olie

22. en twee tortelduiwe of twee jong duiwe soos wat hy kan bekostig. Die een sal ’n sondoffer wees en die ander ’n brandoffer.

23. Hy moet hulle dan op die agtste dag na die priester bring vir sy reiniging by die ingang van die Tent van Ontmoeting voor die Teenwoordigheid van יהוה.

24. Hy moet die oortredingsofferlam en die log olie vat en die priester moet dit as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai.

25. Hy moet die oortredingsofferlam doodmaak en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die regter oorbel van hom wat gereinig word, aan die duim van sy regter hand en aan die groottoon van sy regter voet smeer.

26. Die priester moet van die olie in sy eie linker hand gooi.

27. Die priester moet met sy regter vinger van die olie wat in sy linker hand is, sewe maal voor die Teenwoordigheid van יהוה sprinkel.

28. Die priester moet van die olie wat in sy hand is, aan die regter oorbel van hom wat gereinig word, aan die duim van sy regter hand en aan die groottoon van sy regter voet smeer, op die plek van die bloed van die oortredingsoffer.

29. Die res van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die kop, van hom wat gereinig word, gooi, om toedekking vir hom te doen voor die Teenwoordigheid van יהוה.

30. Hy moet een van die tortelduiwe of van die jong duiwe, soos wat hy kan bekostig, offer.

31. Die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die graanoffer. So moet die priester vir hom wat gereinig word, toedekking doen voor die Teenwoordigheid van יהוה.

32. Dit is die wet vir hom wat ’n plaag van melaatsheid gehad het, wat nie die gewone reiniging kan bekostig nie.”

Levitikus 14