Handelinge 8:10-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Almal, van klein tot groot, het tot hom gebid en gesê: “Hy is die groot krag van God.”

11. Almal was deur hom oortuig omdat hy hulle vir ’n lang tyd deur sy towerye verstom het,

12. maar toe hulle vertrou wat Filippos verkondig het aangaande die Koninkryk van God in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.

13. Shim’on self het ook vertrou en nadat hy gedoop is, het hy gedurig by Filippos gebly en hy was verstom en verslae toe hy die tekens en wonderwerke sien wat deur sy hand gebeur.

14. Toe die afgevaardigdes in Yerushalayim hoor dat Shomron die boodskap van God aanvaar het, het hulle Shim’on Kefa en Yoganan na hulle toe gestuur.

15. Húlle het afgegaan en vir hulle gebid sodat hulle die Gees van Afsondering kan ontvang,

16. want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua.

17. Hulle het toe die hande op hulle gelê en hulle het die Gees van Afsondering ontvang.

18. Toe Shim’on sien dat, deur die handoplegging van die afgevaardigdes, die Gees van Afsondering gegee word, het hy vir hulle geld gebring

19. en gesê: “Gee vir my ook hierdie outoriteit sodat as ek iemand die hande oplê, hulle die Gees van Afsondering kan ontvang.”

20. Shim’on Kefa sê vir hom: “Jou geld sal saam met jou na die vernietiging gaan omdat jy gedink het dat jy die geskenk van God met wêreldse besittings kan verkry.

21. Jy het geen deel of breukdeel aan hierdie vertroue nie, want jou verstand, wil en emosie is nie opreg voor God nie.

Handelinge 8