1. Ná hierdie dinge het dit gebeur dat die hoof skinker en die hoof bakker van die koning van Mitzrayim oortree het teen hulle meester, die koning van Mitzrayim
2. en Farao het in woede uitgebars teenoor sy twee hofdienaars, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers.
3. Hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die bevelvoerder van die lyfwag, in die tronk, die plek waar Yosef aangehou is
4. en die bevelvoerder van die lyfwag het Yosef by hulle aangestel om hulle te bedien en hulle was ’n tyd lank in bewaring.
5. Die skinker en die bakker van die koning van Mitzrayim, wat gevang en in die tronk gesit is, het altwee, elkeen afsonderlik, ’n droom gehad in dieselfde nag; elkeen ’n droom met sy eie betekenis.
6. Yosef het die volgende oggend by hulle ingekom en let op, hy sien dat hulle ontsteld is.
7. Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy meester en sê: “Waarom lyk julle gesigte vandag so treurig?”
8. Hulle antwoord hom: “Ons het elkeen ’n droom gehad en daar is niemand wat dit kan uitlê nie.” Yosef vra vir hulle: “Behoort uitlegging nie aan God nie? Vertel my asseblief.”
9. Die hoof van die skinkers vertel aan Yosef sy droom en sê vir hom: “In my droom was daar ’n wingerdstok voor my
10. en aan die wingerdstok was daar drie ranke en dit was asof hy gebot het en sy bloeisel uitgeskiet het en sy trosse het ryp druiwe geword.
11. Die beker van Farao was in my hand en ek het die druiwe gevat, dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gesit.”