Genesis 31:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hy het die woorde van die seuns van Lavan gehoor dat hulle sê: “Ya’akov het alles weggevat wat ons vader s’n was en uit wat ons vader s’n was, het hy al hierdie rykdom verkry.”

2. Ya’akov het ook die gesig van Lavan gesien en let op, dit was nie meer soos gister en eergister nie.

3. יהוה het vir Ya’akov gesê: “Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie en Ek sal by jou wees.”

4. Ya’akov stuur toe en laat Ragel en Le’ah veld toe roep na sy trop toe

5. en sê vir hulle: “Ek sien dat die gesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was by my.

6. Julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het,

7. maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander, maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.

8. As hy sou sê: ‘Die gestippeldes sal jou loon wees,’ dan lam al die vee gestippeldes en as hy sê: ‘Die gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die vee gestreeptes.

9. So het God die vee van julle vader af weggevat en aan my gegee.

10. Dit het in die tyd toe die kleinvee op hitte was, gebeur dat ek my oë opgeslaan en in ’n droom gesien het dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was

11. en die boodskapper van God sê vir my in die droom: ‘Ya’akov!’ Ek antwoord: ‘Hier is ek!’

12. Hy sê: ‘Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Lavan aan jou doen.

13. Ek is die God van Beit-El waar jy die pilaar gesalf het, waar jy ’n eed aan My beloof het. Staan nou op, gaan weg uit hierdie land uit en gaan terug na die land van jou geboorte’.”

14. Ragel en Le’ah antwoord en sê vir hom: “Is daar nog ’n deel of erfenis vir ons in die huis van ons vader?

15. Word ons nie as vreemdelinge deur hom gesien nie? Hy het ons verkoop en ons geld opgeëet en verteer,

16. want al hierdie rykdom wat God van ons vader weggevat het, is ons en ons seuns s’n. Doen dan nou wat ook al God vir u gesê het om te doen.”

17. Toe staan Ya’akov op en laai sy kinders en sy vroue op die kamele

18. en hy voer al sy vee weg en al sy besittings wat hy bymekaar gemaak het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram bymekaar gemaak het, om na sy vader Yitz’gak in die land Kena’an te gaan.

Genesis 31