7. Die manne van die plek het hom na sy vrou gevra en hy antwoord: “Sy is my suster.” Hy was bang om te sê: “My vrou,” anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, hom miskien doodmaak ter wille van Rivkah, want sy was mooi om na te kyk.
8. Nadat hy al ’n lang tyd daar was, het dit so gebeur dat Avimelekh, die koning van die F’lishtyne, deur die venster uitkyk en sien hoedat Yitz’gak met Rivkah, sy vrou, speel
9. en Avimelekh het Yitz’gak geroep en gesê: “Let op, sy is sekerlik jou vrou! Hoekom het jy dan verklaar: sy is my suster?” Yitz’gak antwoord hom: “Omdat ek gedink het dat ek miskien om haar ontwil doodgemaak sal word.”
10. Avimelekh sê: “Wat is hierdie wat jy ons aangedoen het? Hoe maklik kon een van die mense by jou vrou gelê het en jy skuld oor ons gebring het!”
11. Avimelekh het bevel gegee aan die hele volk en gesê: “Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal die dood sterf.”
12. Yitz’gak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig ingebring, want יהוה het hom geseën.
13. Die man het ryk geword en altyddeur gegroei in rykdom totdat hy uitermate ryk was.
14. Hy het troppe kleinvee en beeste besit en baie bediendes sodat die F’lishtyne jaloers was op hom.
15. Die F’lishtyne het al die putte wat sy vader se diensknegte in die dae van sy vader Avraham gegrawe het, toegestop en met grond opgevul.
16. Avimelekh sê vir Yitz’gak: “Gaan weg van ons af, want jy het magtiger as ons geword.”
17. Daarop het Yitz’gak weggetrek van daar en sy tent opgeslaan in die vallei van G’rar en daar gebly.