Genesis 17:4-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. “Wat My betref, let op, Ek sluit My verbond met jou en jy sal die vader van ’n menigte nasies wees.

5. Jou naam sal ook nie meer Avram wees nie, maar jou naam sal Avraham wees, want Ek het jou ’n vader van ’n menigte nasies gemaak.Rom 4:17

6. Ek sal jou vrugbaar maak en jou uitermate oorvloedig vermeerder: Ek sal jou vader van baie nasies maak en konings sal uit jou lendene kom.

7. Ek sal My verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou, in hulle geslagte, as ’n ewige verbond: Ek sal vir jou God wees en vir jou nageslag ná jou.

8. Ek sal ook aan jou en jou nageslag ná jou die land, waar jy besoeker is, gee; die hele land Kena’an, as ’n ewige erfenis en Ek sal hulle God wees.”

9. God het ook vir Avraham gesê: “Wat jou betref: jy moet My verbond nakom, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag

10. is dit My verbond wat jy moet nakom tussen My en jou en jou nageslag ná jou.

11. Almal wat manlik onder julle is, moet besny word. Julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle.Yog 7:22

12. Hy, onder julle, wat agt dae oud is, moet besny word, almal wat manlik is, in julle geslagte; die wat in jou huis gebore is en die wat nie van jou nageslag is nie, wat van enige vreemdeling met geld gekoop is.

13. Hy wat in jou huis gebore is en hy wat met jou geld gekoop is moet sekerlik besny word en My verbond sal in julle vlees wees as ’n ewige verbond

14. en die onbesnede manlike persoon, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie, dié persoon moet afgesny word van sy volk; hy het My verbond gebreek.

15. God het ook vir Avraham gesê: “Wat jou vrou, Sarai, betref, moet jy haar nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sarah wees

16. en Ek het haar geseën en sal jou uit haar ook ’n seun gee. Ja, Ek sal hom seën en nasies van hom maak; konings van volke sal uit hom voortkom.”

17. Toe val Avraham op sy gesig en lag en sê in sy binneste: ‘Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word, of kan Sarah, wat negentig jaar oud is, geboorte gee?’

18. Avraham sê vir God: “Ag, dat Yishma’el in U Teenwoordigheid kan leef!”

19. God antwoord Avraham: “Waarlik, jou vrou, Sarah, sal vir jou geboorte gee aan ’n seun en jy moet hom Yitz’gak noem en Ek sal My verbond met hom vasstel as ’n ewige verbond en met sy nageslag ná hom.

20. Wat Yishma’el betref, Ek het jou ook gehoor. Let op, Ek het hom geseën en maak hom vrugbaar en vermeerder hom uitermate oorvloedig. Hy sal die vader word van twaalf prinse en Ek sal hom ’n groot nasie maak,

Genesis 17