Eksodus 36:5-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. en hulle het met Moshe gepraat en gesê: “Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk wat יהוה ons beveel het om te doen.”

6. Moshe het bevel gegee en hulle het dit deur die kamp bekend gemaak en gesê: “Laat geen man of vrou verder enige werk doen in verband met die bydraes vir die Afgesonderde Plek nie.” Die volk is so teruggehou om te bring,

7. want die materiaal wat hulle gehad het, was meer as genoeg om al die werk te doen.

8. Almal wat kunstig was onder hulle wat aan die tabernakel gewerk het, het tien gordyne gemaak uit wit geweefde linne en met blou, pers en bloedrooi materiaal, met gérubs; as kunstige werk het hulle dit gemaak. B’tzal’el het dit gemaak.

9. Die lengte van elke gordyn was agt en twintig el en die breedte van elke gordyn vier el. Al die tentdoeke het een maat gehad.

10. Hy het vyf van die tentdoeke aan mekaar vasgewerk en die ander vyf tentdoeke het hy ook aan mekaar vasgewerk.

11. Hy het lissies van blou materiaal gemaak aan die soom van die buitenste gordyn van die een stel; hy het dieselfde gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die tweede stel.

12. Vyftig lissies het hy gemaak aan die een gordyn en vyftig lissies het hy gemaak aan die kant van die gordyn van die tweede stel. Die lissies was die een teenoor die ander.

13. Hy het ook vyftig goue hakies gemaak en die gordyne aan mekaar vasgesit met die hakies sodat die tabernakel een geheel was.

14. Hy het gordyne van bokhaar gemaak as ’n tentseil oor die tabernakel: hy het elf gordyne gemaak.

15. Die lengte van elke gordyn was dertig el en die breedte van elke gordyn vier el: die elf tentdoeke het een maat gehad.

16. En hy het vyf van die gordyne afsonderlik aan mekaar gewerk en ses van die gordyne afsonderlik.

17. Hy het vyftig lissies gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die een stel en vyftig lissies het hy gemaak aan die soom van die laaste gordyn van die tweede stel.

18. Hy het ook vyftig koper hakies gemaak om die tent aan mekaar vas te sit sodat dit een geheel was.

19. Hy het ook vir die tent ’n bedekking van rooi gekleurde ramsvelle gemaak en daar bo-oor ’n bedekking van dugongvelle.

20. Hy het ook vir die tabernakel planke van akasiahout gemaak wat regop staan.

21. Die plank se lengte was tien el en die breedte van elke plank was een en ’n half el.

22. Elke plank het twee tappe gehad wat met mekaar verbind was. So het hy al die planke van die tabernakel gemaak.

23. Hy het die planke vir die tabernakel gemaak: twintig planke vir die suidekant.

Eksodus 36