Eksodus 29:13-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Jy moet al die vet vat wat oor die binnegoed is, die vetlob aan die lewer, die twee niere en die vet wat daaraan is en dit op die altaar brand en in rook laat opgaan,

14. maar jy moet die vleis van die bul, sy vel en sy mis buitekant die kamp met vuur verbrand. Dit is ’n sondoffer.

15. Jy moet een ram vat en Aharon en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;

16. dan moet jy die ram slag en sy bloed vat en dit rondom die altaar sprinkel.

17. Jy moet die ram in stukke sny, sy binnegoed en pote was en dit by die stukke en die kop sit.

18. Jy moet die hele ram op die altaar brand en in rook laat opgaan. Dit is ’n brandoffer tot יהוה; ’n aangename geur, ’n offer deur vuur aan יהוה.

19. Jy moet ook die ander ram vat en Aharon en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;

20. jy moet die ram slag en van sy bloed vat en dit aan die regteroorbel van Aharon en aan die regteroorbel van sy seuns smeer, asook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet en sprinkel die bloed rondom die altaar.

21. Jy moet van die bloed wat aan die altaar is en van die salfolie vat en dit op Aharon en op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns, sprinkel, saam met hom sodat hy en sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns, saam met hom, afgesonderd kan wees.

22. Vat ook die vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die vetlob aan die lewer, die twee niere met die vet wat daaraan is, die regterboud van die ram, want dit is ’n inwydingsram,

23. met een brood, een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde brode wat voor יהוה is

24. en lê dit alles in die hande van Aharon en in die hande van sy seuns en waai dit as ’n waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה.

25. Vat dit uit hulle hande uit en steek dit op die altaar aan die brand, as ’n brandoffer, as ’n aangename geur voor die Teenwoordigheid van יהוה. Dit is ’n offer met vuur tot יהוה.

26. Jy moet die bors van die inwydingsram van Aharon vat en dit waai as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה; dit sal jou deel wees.

Eksodus 29