Eksodus 23:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Jy mag geen valse gerug versprei nie. Moenie jou hand by die bose oortreder sit om ’n valse getuie te wees nie.

2. Jy mag nie die meerderheid volg in doen van boosheid nie en jy mag nie in ’n regsaak getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.

3. Jy mag nie partydig wees vir die arme in sy regsaak nie.

4. As jy jou vyand se bees of donkie teëkom wat wegdwaal, moet jy dit aan hom terugbesorg.

5. As jy een wat jou haat se donkie onder sy pak sien lê, moet jy dit nie aan hom oorlaat nie: jy moet hom dit help bevry.

6. Jy mag nie die reg van jou behoeftiges in hulle regsaak opsy skuif nie.

7. Hou jouself ver weg van valse aanklagte af en moenie die onskuldige en die regverdige doodmaak nie, want Ek sal die bose oortreder nie regverdig verklaar nie.

8. Jy mag ook geen omkoopgeskenk aanvaar nie, want ’n omkoopgeskenk maak die siendes blind en verdraai die woorde van die regverdiges.

9. Jy mag die vreemdeling ook nie onderdruk nie, want julle verstaan self die lewe van ’n vreemdeling omdat julle vreemdelinge in Mitzrayim was.

10. Ses jaar lank moet jy jou land saai en die opbrengs daarvan inbring,

11. maar in die sewende jaar moet jy dit laat rus en braak laat lê dat die behoeftiges van jou volk kan eet en wat hulle laat oorbly, die diere van die veld kan opeet. Net so moet jy ook doen met jou wingerd en jou olyfbome.

Eksodus 23