Eksodus 16:3-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Die seuns van Yisra’el het vir hulle gesê: “Het ons maar in Mitzrayim deur die hand van יהוה gesterf toe ons by die vleispotte gesit en brood geëet het tot versadiging toe, want julle het ons in hierdie wildernis uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat doodgaan.”

4. יהוה sê vir Moshe: “Let op, Ek sal vir julle brood uit die hemele laat reën; dan moet die volk uitgaan en dag vir dag bymekaarmaak sodat Ek hulle kan toets, of hulle volgens My instruksies (Torah) sal loop of nie.Num 11:7,8; Ps 105:40; Yog 6:32

5. Dit sal wees dat op die sesde dag, as hulle voorberei wat hulle inbring, dit dubbel soveel sal wees as wat hulle daagliks bymekaarmaak.”

6. Moshe en Aharon sê vir al die seuns van Yisra’el: “Teen sonsondergang sal julle weet dat יהוה julle uit die land van Mitzrayim uitgelei het

7. en in die oggend sal julle die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה sien omdat Hy julle gebrom teen יהוה gehoor het, want wat is ons dat julle teen ons kla?”

8. Moshe het gesê: “Wanneer יהוה julle vleis gee om te eet teen sonsondergang en in die oggend brood tot vervullens toe, dan het יהוה julle gebrom gehoor wat julle teen Hom kla, want wat is ons? Julle gebrom is nie teen ons nie, maar teen יהוה.”

9. Moshe het met Aharon gepraat: “Sê vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el: Kom nader voor יהוה, want Hy het julle klagtes gehoor.”

10. Terwyl Aharon met die hele vergadering van die kinders van Yisra’el praat, draai hulle na die wildernis toe en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה verskyn in die wolk.

11. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

12. “Ek het die klagtes van die seuns van Yisra’el gehoor; praat met hulle en sê: In die aand sal julle vleis eet en in die oggend met brood versadig word en julle sal weet dat Ek יהוה, julle God, is.”

13. So het dit gebeur dat teen sonsondergang daar kwartels opgekom en die kamp toegedek het en in die oggend was daar ’n laag dou rondom die kamp.

14. Nadat die laag dou opgetrek het, het daar oor die wildernis iets gelê wat fyn en korrelrig was, so fyn soos ryp op die grond.

15. Toe die seuns van Yisra’el dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit? (Man hu?)” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Moshe sê vir hulle: “Dit is die brood wat יהוה vir julle gee as kos.Num 11:7,8; Ps 105:40; Yog 6:32

16. Dit is wat יהוה beveel het: ‘Laat elke man kos bymekaarmaak vir elke mond, ’n `omer vir elke kop, laat elkeen vat volgens die mense in sy tent’.”

17. Die seuns van Yisra’el het so gedoen: hulle het bymekaargemaak, sommige meer, ander minder,

18. maar toe hulle dit met die `omer meet, het hy wat baie bymekaargemaak het, niks oorgehad nie en hy wat min bymekaargemaak het, nie te min gehad nie.2 Kor 8:15 Elkeen na sy behoefte het hulle bymekaargemaak.

19. Moshe het vir hulle gesê: “Niemand moet daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie.”

20. Nogtans het hulle nie na Moshe geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die oggend toe en daar het wurms ingekom en dit het gestink. Moshe was woedend vir hulle.

21. Hulle het dit oggend na oggend bymekaargemaak, elkeen na sy behoefte en wanneer die son warm word, smelt dit weg.

Eksodus 16