Spreuke 19:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Eerder ’n arme wat die Here ken, as ’n ryke sonder enige wysheid. Hy sê en doen die domste dinge.

2. Dink voordat jy begin. ’n Haastige mens wat nie dink voordat hy optree nie, misluk.

3. Eiesinnigheid kan mens se planne vernietig. Daarna blameer hy die Here vir sy ellende.

4. Waar daar geld is, is daar altyd baie vriende. Baie geld maak baie vriende. ’n Arme word selfs deur sy beste vriend verlaat.

5. Iemand wat doelbewus vals stories versprei, sal nie ongestraf bly nie. Elke leuenaar sal aan die pen ry.

6. Jabroers kruip altyd by die baas. Hulle vra allerhande gunste. Almal is mos altyd ’n vriend van die een of ander belangrike persoon. Maar hulle dink net aan hulle eie belange.

7. Iemand in ’n groot finansiële verknorsing staan alleen. Sy eie familie vermy hom. Sy vriende wil niks met hom te doen hê nie. Beloftes van hulp word gou vergeet.

8. ’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe.

Spreuke 19