3. My God, ek roep U heeltyd; ek hou nie op met bid nie, heeldag en heelnag lank, maar van U is daar geen teken nie. U is doodstil.
4. U is die Een wat baie belangrik en groot is.U kinders het groot respek vir U.U is waar hulle U loof.
5. Ons oupas en oumas het op U vertrou.Hulle het U vertrou en U het hulle nie in die steek gelaat nie. U het hulle gehelp.
6. Hulle het tot U gebid. Toe bevry U hulle.Op U het hulle vertrou en U het hulle nie teleurgestel nie.
7. Maar ek voel nie meer soos ’n mens nie.Ek is soos ’n wurm tussen ’n klomp stinkende dooies.Mense trek die neus op en sien op my neer. Hulle spot my.
8. Elkeen wat my sien, lag my uit;hulle trek gesigte, steek vir my tong uit en skud die kop.
9. Dan sê hulle: “Siestog, die Here moet die arme drommel maar help. Hy sal hom miskien uit sy moeilikheid help, want Hy hou mos van hom.”
10. Here, U gee al lankal vir my om, van my geboorte af.Ek was doodtevrede en gelukkig toe my ma my aan haar bors laat drink het.
11. Reeds van die begin van my lewe af behoort ek aan U. U is my God van my geboorte af. U sorg vir my.
12. Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe.U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit.Daar is niemand om my te help nie.
13. Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere.Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm.
14. Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom.Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur.Ek het geen krag meer oor nie.
15. Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand.Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar.Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks.
16. Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is.
17. Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak.Van alle kante het hulle gekom om op my te trap.Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie.Hulle het my hande en voete stukkend gesteek.