Numeri 28:16-27 Die Boodskap (DB)

16. “Die paasfees, wat op die veertiende van die eerste maand gehou word, is ’n fees wat gehou word om die Here te eer.

17. Op die volgende dag begin die fees van die brood wat sonder suurdeeg gemaak word. Die fees hou sewe dae lank aan en vir hierdie sewe dae mag julle net brood sonder suurdeeg eet.

18. Op die eerste dag van die fees moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op dié dag mag niemand werk nie.

19. Dan moet julle vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit moet ’n brandoffer wees van twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is.

20. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram hiervan

21. en saam met elke lam een kilogram hiervan.

22. Dan moet julle ook ’n bokram offer as ’n sondeoffer om vergifnis te vra vir die volk se sonde.

23. Die gereelde oggendbrandoffers moet nog steeds gebring word bo en behalwe hierdie offer.

24. Julle moet ook vir die volle sewe dae ’n kosoffer bring wat vir die Here verbrand kan word, want dit is die offers waarvan Hy hou en wat Hy aanvaar. Hierdie offers word geoffer bo en behalwe die gereelde brandoffer en die drankoffer.

25. Op die sewende dag van die fees moet julle weer vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie.”

26. “Op die eerste dag van die oesfees, sewe weke na paasfees, moet julle ’n graanoffer uit die nuwe oes bring om vir die Here dankie te sê vir die oes. Dan moet julle ’n spesiale lofprysingsgeleentheid hou. Op daardie dag mag niemand werk nie.

27. Dan moet julle vir die Here ’n spesiale brandoffer bring waarvan Hy hou: twee jong bulle, ’n ram en sewe jaaroud rammetjies.

Numeri 28