Numeri 14:15-30 Die Boodskap (DB)

15. As U hierdie volk nou totaal uitroei, sal al die nasies wat reeds van u wonderlike dade gehoor het, bymekaarkom en sê:

16. ‘Die Here was nie sterk genoeg om hierdie volk in die land in te vat wat Hy hulle so plegtig belowe het nie, daarom het Hy hulle toe maar in die woestyn laat doodgaan.’

17. “Here, wys nou vir ons dat U regtig alles kan doen wat U gesê het.

18. U het mos gesê: ‘Ek is die Here en Ek word nie gou kwaad nie. Ek hou my woord as Ek met julle ’n ooreenkoms gemaak het. Ek vergewe mense hulle sondes en hulle opstandigheid teen My, maar nie sonder dat hulle self die gevolge van hulle dade gedra het nie. Selfs hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders sal ly onder die gevolge van hulle verkeerde dade.’

19. Vergewe asseblief hierdie volk se sonde omdat U so baie vir hulle omgee. Vergewe hulle soos U hulle van Egipte af tot hier toe vergewe het!”

20. Toe sê die Here: “Ek vergewe hulle, soos jy My gevra het om te doen.

21. Maar so seker as wat Ek leef en Ek die hele aarde met my magtige teenwoordigheid volmaak,

22. nie een van hierdie mense sal ooit in hierdie land ingaan nie. Al het hulle my groot krag en al die wondertekens gesien wat Ek in Egipte en ook in die woestyn gedoen het, het hulle My steeds bly uittart. Hulle het hulle geheel en al nie aan My gesteur nie.

23. Daarom sal hulle nooit die land sien wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het nie. Nie een van hierdie spul wat my groot Naam onder hulle voete vertrap het, sal hulle voete in die land sit nie.

24-25. Maar my dienaar Kaleb is nie soos hulle nie. Hy het deur dik en dun aan my kant bly staan, daarom sal hy in die land wat hy help verken het, ingaan. Sy kinders sal in die land gaan bly, al bly die Amalekiete en die Kanaäniete nou nog in die valleie. Môre moet julle omdraai en die woestyn intrek in die rigting van die Rietsee.”

26. Die Here vra toe vir Moses en Aäron:

27. “Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm!

28. Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het.

29. Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly.

30. Nie een van julle sal in die Beloofde Land ingaan nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun.

Numeri 14