Numeri 11:31-35 Die Boodskap (DB)

31. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp.

32. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word.

33. Hulle was nog besig om van die vleis te eet, en daar was nog baie oor, toe die Here verskriklik kwaad vir hulle geword het. Hy het ’n siekte-epidemie onder hulle laat losbars wat baie mense doodgemaak het.

34. Daarom het hulle die plek Kibrot-Taäwa, of begraafplaas van vleislus, genoem, want hulle het baie mense daar begrawe wat aan die epidemie dood is nadat hulle gulsig was oor vleis.

35. Van daar af het die volk na Gaserot toe getrek waar hulle ’n ruk lank gebly het.

Numeri 11