Numeri 10:28-36 Die Boodskap (DB)

28. So het die Israeliete altyd getrek, afdeling vir afdeling.

29. Toe hulle wegtrek, het Moses vir sy swaer, Gobab, wat Reüel die Midianiet se seun was, gesê: “Ons is nou op pad na die land toe wat die Here vir ons beloof het. Kom saam met ons, dan deel jy in ons voorspoed, want die Here het wonderlike dinge vir ons belowe.”

30. Maar Gobab het geantwoord: “Nee dankie, ek dink ek gaan eerder terug na my eie land en familie toe.”

31. Maar Moses het nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie: “Moet ons nie nou alleen los nie. Jy ken die beste kampplekke in die woestyn, jy kan ons gids wees.

32. As jy saamkom, kan jy ook deel hê aan al die wonderlike dinge wat die Here vir ons gaan gee.”

33. So is die volk van die berg Sinai, die berg van die Here, af weg. Hulle het drie dae lank getrek met die verbondsark van die Here op die voorpunt van die volk om vir hulle te wys waar om te stop en te rus.

34. Elke dag wat hulle op pad was, het die wolk van die Here bokant hulle gebly.

35. Elke keer as die priesters met die verbondsark begin trek het, het Moses gesê: “Staan op, Here, jaag u vyande weg voor U! Laat almal wat U haat, voor U padgee!”

36. En elke keer as hulle by die kamp aangekom en die ark neergesit het, het Moses gesê: “Kom asseblief nou terug na die reuseskares van Israel toe, Here!”

Numeri 10