Matteus 27:5-23 Die Boodskap (DB)

5. Judas gooi toe die geld net daar in die tempel neer en hardloop weg. Later het hulle hom gekry waar hy homself opgehang het.

6. Die priesters het die geld gevat en gesê: “Dit is jammer, maar ons kan nie hierdie geld as kollekte vir die tempel vat nie. Dit is mos geld wat vir iemand se lewe betaal is.”

7. Hulle het besluit om die geld te gebruik om ’n begraafplaas aan te skaf vir vreemde mense wat nie familie in Jerusalem gehad het om hulle te begrawe nie. Hulle het ’n stuk grond by ’n pottebakker gekoop.

8. Daarom is daardie begraafplaas tot vandag toe nog bekend as “Bloedgrond”.

9. Dit was net soos die profeet Jeremia lank terug gesê het:“En hulle het die 30 stukke silwer gevat, die prys wat die Israeliete op sy kop gesit het,

10. en dit vir die grond van die pottebakker betaal. Dit is die Here se instruksies aan my.”

11. Jesus het daarna voor die goewerneur verskyn. “Is jy die koning van die Jode?” vra die goewerneur. “Ja, u sê dit self,” antwoord Jesus.

12. Hy het egter niks gesê op die aanklagte van die Joodse leiers nie.

13. Pilatus gaan toe voort: “Luister net wat hierdie mense alles oor jou sê. Wil jy nie jouself verdedig nie?”

14. Tot die goewerneur se verbasing wou Jesus nie ’n woord sê nie.

15. Die goewerneur het gewoonlik met die fees ’n gevangene vir die mense losgelaat. Hulle kon self kies wie.

16. Daar was toe juis ’n sekere Jesus Barabbas in die tronk. Hy was ’n baie berugte terroris.

17. Pilatus sê vir die mense: “Ek gee julle die keuse. Wie wil julle hê moet ek loslaat, Jesus Barabbas of Jesus, die een wat Christus genoem word?”

18. Pilatus het diep in homself geweet dat die Joodse leiers net jaloers was op Jesus. Om hierdie gevoel van hom te versterk het iets anders ook nog gebeur.

19. Terwyl die hofsaak aan die gang was, het Pilatus se vrou hom laat weet: “Ek het vannag die verskriklikste nagmerrie oor daardie man gehad. Hy is onskuldig. Los hom!”

20. Die Joodse leiers het intussen die mense omgepraat om te vra dat Barabbas losgelaat en Jesus doodgemaak moes word.

21. Pilatus vra hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” skreeu hulle.

22. “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?”“Kruis toe met hom!” skreeu hulle soos een man.

23. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?” Hulle het hulle nie aan sy vraag gesteur nie, maar net harder geskreeu: “Kruis toe met hom!”

Matteus 27