Matteus 18:15-26 Die Boodskap (DB)

15. “As ’n ander gelowige jou op die een of ander manier sleg behandel het, moet jy die saak alleen met hom gaan uitpraat. As hy na jou luister, was dit alles die moeite werd. Dan het jy hom teruggekry op God se pad.

16. As dit nie help nie, moet jy nog een of twee persone saamvat en weer gaan probeer. Die teenwoordigheid van twee of drie getuies kan hom dalk tot sy sinne ruk.

17. Wanneer hy selfs nie na hulle wil luister nie, moet jy maar vir al die ander gelowiges gaan vertel wat gebeur het. As dit uiteindelik ook nie help nie, moet julle hierdie persoon as ’n ongelowige en ’n sondaar beskou. So iemand hoort dan nie meer in die kerk nie.

18. “Ek gee aan julle groot gesag: ’n ja van julle hier op aarde is ’n ja in die hemel. En ’n nee van julle is ’n nee in die hemel. Wat Ek bedoel, is dit: as julle iemand wat tot bekering gekom het as ’n broer of ’n suster binne die kerk ontvang, geld dit ook in die hemel. En as julle iemand wat in sonde leef, verbied om langer aan die kerk te behoort geld dit ook in die hemel.

19. “Ek het nog goeie nuus vir julle. As twee van julle saamstem oor enige saak wat swaar op julle hart lê en julle gaan praat met my hemelse Vader daaroor, sal julle gebed verhoor word. Julle sal kry wat julle gevra het.

20. Onthou: Ek is altyd by julle, selfs daar waar net twee of drie van julle in my Naam bymekaarkom om te bid.”

21. Petrus vra toe vir Jesus: “Here, sê my, hoeveel keer moet ek iemand vergewe wat verkeerd teenoor my opgetree het? Tot sewe maal?”

22. “Nee, nie net sewe keer nie,” het Jesus geantwoord. “Sewentig maal sewe keer. Moenie tel hoeveel keer jy ander mense vergewe nie. Vergifnis hou net aan en aan.”

23. Toe vertel Jesus vir hulle ’n verhaal om te verduidelik wat Hy bedoel: “In God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n koning wat op ’n dag besluit het om sy boeke na te gaan en te kyk wie van sy onderdane hom geld skuld.

24. Toe hy begin sommetjies maak, kom hy agter dat een van sy amptenare hom twintig miljoen rand skuld.

25. Hy was baie geskok hieroor en het die man dadelik ontbied. Toe die man opdaag, het hy vir die koning gesê dat hy bankrot is. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Die koning was woedend daaroor. ‘Verkoop hom en sy vrou en kinders daar op die mark as slawe. Verkoop ook al hulle besittings. So kry ek darem ’n paar rand terug.’

26. “Die vreesbevange amptenaar het toe op sy knieë voor die koning neergeval en om genade begin smeek. ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal alles terugbetaal wat ek aan u skuld.’

Matteus 18