Markus 6:9-27 Die Boodskap (DB)

9. Hulle kon wel sandale dra, maar moes nie ekstra klere saamvat nie.

10. As iemand in ’n dorp hulle uitnooi om daar te kom bly, moes hulle in dié huis bly tot hulle werk op die dorp klaar was en hulle verder moes gaan. Hulle moes nie rondval nie.

11. As mense op ’n plek nie na hulle wou luister nie en hulle nie aan Jesus se volgelinge wou steur nie, moes hulle nie eens verder sukkel nie. Hulle moes omdraai en eenvoudig daar wegloop. Dit sou duidelik wys wat hierdie mense met die boodskap van God gemaak het.

12. Die dissipels is toe daar weg en het mense gaan aanmoedig om terug te draai na God toe.

13. Hulle het ook baie demone verjaag en siekes gesond gemaak deur ’n bietjie olie oor hulle te gooi.

14. Nuus oor al hierdie dinge het by koning Herodes uitgekom, want oral het mense oor Jesus gepraat. Hy was baie gewild. Party het selfs gesê: “Johannes die Doper is terug uit die dood en daarom het hy die krag om al hierdie wonderlike dinge te doen.”

15. Ander het daarvan verskil. “Nee, hy is Elia,” het party gesê, terwyl ander gespekuleer het dat Hy soos een van God se predikers van ouds was.

16. Toe Herodes dit alles hoor, was sy reaksie: “Johannes, die man wie se kop ek afgekap het, het sowaar uit die dood teruggekom!”

20. want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het.

21. Herodias het haar kans gekry op Herodes se verjaarsdag. Hy het ’n groot partytjie gehou vir al die belangrike mense in Galilea. Al die hoë staatsamptenare was daar saam met die bevelvoerders van sy soldate en die leiers van die gemeenskap in Galilea.

22. Die dogter van Herodias kom dans toe vir hulle. Sy was ’n treffer. Herodes en sy gaste was in ekstase. So meegevoer, sê Herodes vir haar:

23. “Vra my net wat jou hart begeer en ek sal dit vir jou gee. Ek sweer, vra maar net en ek sal sorg dat jy dit kry, al is dit die helfte van wat ek besit.”

24. Sy is toe daar weg, terug na haar ma toe: “Ma, wat moet ek vra?” Sonder om een oomblik te huiwer sê haar ma: “Vra dat hulle Johannes die Doper se kop afkap en vir jou gee.”

25. Die dogter vlieg net daar om, terug na Herodes toe: “Ek wil Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê, en sommer dadelik, asseblief.”

26. Die koning was uit die veld geslaan en hartseer, maar hy moes sy woord hou. Hy het mos voor al sy gaste gesweer dat hy sou doen wat sy vra.

27. Hy stuur toe een van sy soldate om Johannes se kop te gaan haal. Die man is daar weg en het Johannes se kop in die tronk gaan afkap.

Markus 6