Markus 2:10-24 Die Boodskap (DB)

10. Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man:

11. “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.”

12. Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is.

13. Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel.

14. Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap.

15. ’n Rukkie later het Levi ’n ete by sy huis gehou. Jesus was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het. Daar was nogal baie van hulle. Die res van die gaste was mense met wie die godsdienstige Jode niks te doen wou hê nie omdat hulle glo te sondig was.

16. Die streng godsdienstige Jode wat die wet in die fynste besonderhede bestudeer het, het die hele petalje dopgehou. Dink net: Jesus is vriende met die klomp slegte mense en eet selfs saam met hulle! Hulle vra toe vir Jesus se volgelinge: “Hoekom eet hy saam met die klomp sondaars asof hy hulle goeie vriend is?”

17. Jesus hoor dit toe. “As iemand gesond is, wil hy nie ’n dokter hê nie, maar as hy siek word, gaan soek hy gou ’n dokter. Net soos ’n dokter nie heeltyd gesondes dokter nie, net so hou Ek My nie heeltyd besig met die mense wat weet wat God wil hê nie. Ek hou My liewer besig met mense wat ver van God af leef.”

18. Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?”

19. Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie.

20. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.”

21. Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur.

22. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.”

23. Een sabbat het Jesus-hulle deur ’n koringland gestap. Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af om aan te begin peusel.

24. Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Wat gaan hier aan? Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle tog duidelik weet verkeerd is om op ’n sabbat te doen?”

Markus 2