Markus 14:19-34 Die Boodskap (DB)

19. Sy volgelinge was baie omgekrap en het onder mekaar gesê: “Dit is tog seker nie ek nie” en: “Ook tog seker nie ek nie, of hoe?”

20. “Dit is een van julle twaalf,” sê Jesus. “Dit is die een wat saam met My sy hand in die bak insteek om kos te vat. Aan die een kant is dit nodig dat Ek, die Redder, doodgemaak moet word.

21. Die Skrif skryf so daaroor en so moet dit gebeur. Maar aan die ander kant bly ’n verraaier ’n verraaier. Hy verraai immers die Redder. Arme hy! Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

22. Terwyl hulle eet, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die kos, breek Hy die brood en gee dit vir die ander. “Vat dit en eet dit. Dit is my liggaam,” sê Hy.

23. Toe vat Hy die beker met die wyn.

24. Weer sê Hy vir God dankie en gee dit toe vir sy dissipels om te drink. “Dit is my bloed wat bewys dat God sy ooreenkoms om julle God te wees, gaan hou. Dit geld nie net vir ’n paar nie, maar vir baie mense.

25. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal nie weer so saam met julle wyn sit en drink tot die dag dat Ek nuwe wyn in God se nuwe wêreld sal drink nie.”

26. Nadat hulle saamgesing het, is hulle na die Olyfberg net buite die stad toe.

27. Jesus het verder gepraat: “Julle almal gaan die rug vir My draai asof julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos:‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’

28. “Maar Ek sal uit die dood opgewek word en dan na Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.”

29. Petrus kon dit nie meer hou nie en sê toe ernstig: “Al hardloop almal weg en maak asof hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.”

30. “Wel, dan het Ek nuus vir jou,” kom dit van Jesus. “Vandag, om meer presies te wees, vannag voor dit tyd word vir die haan om die tweede maal te kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy nog nooit iets met My te doen gehad het nie.”

31. Hardkoppig het Petrus aangehou: “Ek sal dit nooit ooit doen nie. Al maak hulle my dood, ek sal dit nie doen nie.” Die ander het almal ook so gesê.

32. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.”

33. Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel.

34. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.”

Markus 14