Markus 11:3-21 Die Boodskap (DB)

3. As iemand julle voorkeer en vra wat julle doen, sê vir hom: ‘Die Here het hierdie donkie nodig. Sodra Hy klaar is, sal Hy die donkie terugstuur.’”

4. Hulle is toe daar weg en kry die donkie wat in die straat by ’n deur vasgemaak staan.

5. Toe hulle die donkie losmaak, is daar dadelik ’n paar mense by wat wil weet wat hulle doen.

6. Hulle sê toe wat Jesus gesê het. Die mense was tevrede en het hulle hulle gang laat gaan.

7. Toe hulle met die donkie by Jesus kom, gooi hulle van hulle klere oor die donkie se rug. Jesus klim toe op die donkie. Die mense was baie opgewonde en wou wys dat Jesus baie spesiaal is.

8. Baie van hulle het los stukke klere op die pad voor Hom oopgegooi terwyl ander die pad besaai het met groen takkies en blare wat hulle langs die pad gepluk het.

9. Reg rondom Jesus het mense begin skree: “Hoera! Prys Hom wat in die Naam van die Here self kom.

10. Hy gaan heers soos ons groot koning Dawid eens op ’n tyd geheers het. Mag God hierdie heerskappy groot en wonderlik maak. Prys God in die hemel!”

11. Toe Jesus in Jerusalem aankom, is Hy dadelik na die tempel toe. Hy het ’n bietjie daar rondgekyk, maar dit was al laat. Daarom het Hy en sy volgelinge besluit om na Betanië terug te gaan.

12. Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword.

13. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was.

14. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê.

15. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp.

16. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag.

17. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.”

18. Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het.

19. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg.

20. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is.

21. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.”

Markus 11