Markus 1:32-33-44 Die Boodskap (DB)

4. Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe.

5. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

6. Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry.

7. Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie.

8. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.”

9. Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop.

32-33. Die mense wou Jesus net nie met rus laat nie. Tot na donker was Hy nog besig. Die dorpsmense het voor die huis saamgedrom met al die siekes en mense wat in die greep van bose geeste was.

34. Jesus het hulle gesond gemaak; dit het nie saak gemaak wat hulle makeer het nie. Hy het veral ook ontslae geraak van bose geeste. Hy het die geeste egter nie toegelaat om ’n woord te sê nie, want hulle het geweet wie Hy is.

35. Dit was nog donker toe Jesus die volgende môre na ’n stil plek toe is om rustig met God te gaan praat.

36. Simon en die ander het Hom toe gaan soek.

37. Toe hulle Hom eindelik kry, sê hulle vir Hom: “Almal wil weet waar U is.”

38. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die dorpies hier naby sodat Ek daar met die mense oor hulle godsdiens kan gaan praat. Daarvoor is Ek mos hier.”

39. Hulle is toe daar weg. Oral in Galilea het Jesus toe in die sinagoges met die mense gepraat en duiwelse geeste uit mense weggejaag.

40. Op pad het ’n melaatse man Hom op sy knieë kom smeek: “As U maar net wil, kan U my gesond maak.”

41. Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.”

42. Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n.

43. Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg:

44. “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.”

Markus 1