Lukas 19:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Saggeus het omtrent uit die boom geval so vinnig het hy afgeklim. Hy was baie opgewonde dat Jesus besluit het om juis by hom te kom bly.

7. Natuurlik was die mense van die dorp glad nie bly oor Jesus se keuse nie. “Wat vang hy aan? Hoekom gaan bly hy by die grootste skelm in die dorp?”

8. Maar Saggeus se lewe het daardie dag heeltemal verander. Hy het voor die Here gaan staan en vir Hom gesê: “Kyk, van nou af gaan ek anders lewe. Daarom gee ek nou die helfte van alles wat ek besit vir die armes. In die verlede het ek baie mense verkul met geld. Maar ek gaan daardie geld vierdubbel aan hulle terugbetaal.”

9. Jesus sê toe: “Vandag het God jou lewe splinternuut gemaak omdat jy My in jou huis toegelaat het. Jy tel nou ook onder die kinders van Abraham. Almal wat in My glo, is sy nageslag.

10. Jy ook! Ek, die Seun van die mens, het gekom om mense te soek wat op die verkeerde pad leef. Ek maak hulle lewens splinternuut.”

11. Terwyl almal so na Jesus sit en luister, het Hy vir hulle ’n storie vertel. Hulle was nou nie meer ver van Jerusalem af nie en party van sy volgelinge het gedink dat God se nuwe wêreld sommer nou enige oomblik sou aanbreek.

12. “Daar was eendag ’n baie belangrike man. Hy moes toe vir ’n lang tyd van sy grond af weggaan om die hoof te word van ’n koninkryk in ’n naburige gebied.

13. Voor sy vertrek het hy tien van sy werkers laat roep. Hy het toe tien sakkies vol geld gevat en aan elkeen van hulle een gegee. ‘Gaan doen nou goeie besigheid met my geld. Wanneer ek terugkom, moet julle vir my kom sê wat julle daarmee gemaak het.’

14. “Dié ryk man was nie gewild onder die burgers van die land nie. Toe hulle hoor dat hy vertrek het, het hulle ’n boodskap agter hom aangestuur: ‘Ons hoop nie dat jy ook ons leier word nie, want ons hou niks van jou nie.’

15. “Kort nadat die man die heerser van die naburige gebied geword het, het hy na sy huis toe teruggekeer. Hy roep toe sy werkers bymekaar om by hulle te hoor wat hulle met sy geld gemaak het.

16. “Die eerste een kom toe en sê: ‘Meneer, ek het die geld wat u my gegee het, gaan vertiendubbel. Hier is nou tien maal soveel as wat u vroeër vir my gegee het.’

Lukas 19