Lukas 14:13-30 Die Boodskap (DB)

13. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is.

14. “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.”

15. Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!”

16. Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan.

17. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’

18. “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’

19. “’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n klompie osse gekoop en moet gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’

20. “Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het pas getrou. Daarom kan ek nie vandag by u ete wees nie.’

21. “Die helper het toe teruggekom en vir sy werkgewer vertel dat niemand meer kon kom nie. Die man was woedend daaroor. Nadat hy so ’n rukkie gestaan en dink het, sê hy toe vir sy helper: ‘Kom ons maak ’n ander plan. Alles staan mos gereed. So, waarom sal ons dan nie feesvier nie? Gaan nooi gou almal wat jy in die hande kan kry. Maak nie saak wie hulle is of waar hulle bly nie, gaan nooi hulle uit. Gaan haal die armes en al die siekes wat daar in die agterstrate tussen die asblikke slaap. Sê vir hulle hulle moet dadelik na my feesmaal toe kom.’

22. “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’

23-24. “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’”

25. Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het.

26. Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie.

27. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg!“Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg.

28. “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie?

29. Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou.

30. Hulle sal sê: ‘Daar’s nou vir jou ’n deurmekaar ou wat ’n huis halfpad bou en dit dan net so laat staan!’

Lukas 14