Lukas 11:43-54 Die Boodskap (DB)

43. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. In die godsdienstige byeenkomste hoef ’n mens nie eens na julle te soek nie. Julle sit mos daar op die belangrikste plekke waar niemand julle kan miskyk nie. En dis tog te lekker vir julle om in die winkels of op straat so eerbiedig deur almal gegroet te word.

44. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. Julle laat My dink aan ’n klompie weggesteekte grafte waarop almal trap sonder dat hulle dit besef. Julle is eintlik morsdood - julle steek dit net baie goed weg.”

45. Een van die kenners van die wet wat saam met Jesus aan tafel was, het Hom skielik onderbreek: “Kyk, jy mag miskien ’n soort leermeester wees, maar nou raak jy beledigend. Jy is nou ook besig om my en my kollegas wat wetskenners is hier voor almal aan te vat.”

46. Jesus sê toe vir hom: “Daar wag ook groot probleme op julle spul kenners van die Bybel. Ek sal vir julle sê hoekom. Julle skryf dik boeke vol moeilike godsdienstige reëls en stop dit dan in mense se hande en sê: ‘Gaan doen dit tot op die letter van die wet.’ Maar julle kan self nie eens alles doen wat op bladsy een van julle eie boeke geskryf staan nie.

47. “Ja, swaar tye wag vorentoe op julle, want julle rig groot grafstene op vir al God se boodskappers van weleer.

48. En tog is julle die nageslag van die einste mense wat hulle vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie, nè? Julle is elkeen maar net soos julle pa’s en oupas. Hulle het God se boodskappers een vir een doodgemaak, en nou bou julle grafte vir hulle almal.

49. “God het al lankal gewaarsku dat so iets sou gebeur. Hy het gesê dat Hy sy boodskappers en sy apostels na julle toe sou stuur, maar dat hulle doodgemaak en vervolg sou word.

50. Daarom sal elke druppel bloed van elke boodskapper van die Here van julle spul geëis word.

51. Ja, Ek bedoel dit! Daar reg van die begin af, van Abel af tot by Sagaria wat by God se huis dood is, sal elke profeet se bloed van julle geëis word.

52. “Swaar tye wag vorentoe op julle spul kenners van die wet. Want julle het die sleutel van die deur wat na God se wêreld toe lei, weggegooi. Julle weet nie meer hoe om daar uit te kom nie. En dan staan julle boonop nog in die pad van ander wat probeer om by God uit te kom.”

53. Hierdie woorde van Jesus was die laaste strooi. Al die godsdienstige leiers het tegelyk begin praat en skree. Hulle was woedend oor wat Hy gesê het.

54. Die Fariseërs en die wetskenners het hulle bes probeer om Jesus in ’n hoek te dryf. Hulle wou hê dat Hy iets moes sê wat hulle teen Hom kon gebruik.

Lukas 11