Johannes 9:3-16 Die Boodskap (DB)

3. “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen.

4. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie.

5. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.”

6. Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë

7. en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien!

8. Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie.

9. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?”“Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.”“Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit.

10. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom.

11. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde:

12. “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.”“Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord.

13. Die mense vat die man toe reguit na die Fariseërs toe.

14. Die probleem was dat Jesus die man op die sabbat gesond gemaak het.

15. Die Fariseërs wou die hele storie van voor af hoor. Die man het weer alles van die modder en die bad vertel. Die Fariseërs het nie mooi geweet wat om van alles te dink nie.

16. Party het gesê: “Ons kan nie sien hoe hierdie man enigiets met God te doen kan hê nie. Hy steur hom dan glad nie aan die reëls vir die sabbat nie.” Ander het weer sterk van hulle verskil. “Ons stem nie saam nie,” het hulle gesê. “Hoe verklaar julle al dié wonderlike dinge wat hy doen? Waar sal iemand wat niks met God te doen wil hê nie die krag vandaan kry vir dié wonders?”

Johannes 9