Johannes 19:7-17 Die Boodskap (DB)

7. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.”

8. Dit het Pilatus nogal laat skrik.

9. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly.

10. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.”

11. Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.”

12. Pilatus het toe allerhande planne begin maak om Jesus los te laat. Die Jode het agtergekom wat besig was om te gebeur. Hulle skree toe: “As jy dit waag om Jesus los te laat, bewys jy dat jy ook teen die keiser gedraai het. Dink net daaraan: hierdie man wil homself as koning op die troon sit. Daarmee wil hy die keiser aan die ander kant van die troon afstoot.”

13. Hierdie woorde was vir Pilatus te veel. Hy gaan sit toe op sy stoel waarop hy gewoon-lik sy finale hofuitspraak gemaak het. Die mense het dit “die kliptrap” genoem. (In Hebreeus is dit Gabbata.)

14. Pilatus het Jesus ook laat kom. Dit was omtrent twaalfuur op die dag waarop die Jode alles reggemaak het vir die paasfees.Pilatus kondig toe plegtig aan: “Kyk, hier staan julle koning.”

15. Toe skree die Jode eers: “Weg met hom! Weg met hom! Kruis toe!” Pilatus vra hulle toe: “Bedoel julle dit regtig? Moet ek regtig julle koning aan ’n kruis laat hang tot hy dood is?”Die leiers onder die priesters sê toe: “Hierdie man is g’n ons koning nie. Ons het net een koning: die keiser van Rome.”

16. Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig.

17. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat).

Johannes 19