Johannes 18:26-35 Die Boodskap (DB)

26. “Maar het ons jou dan nie in die tuin saam met Jesus gesien nie?” vra ’n ander een hom. Dinge het nou vir Petrus begin warm word. Die een wat hom dit gevra het, was familie van Malgus wie se oor Petrus afgekap het. Boonop het hy ook nog vir die hoëpriester gewerk.

27. Petrus het weer ’n keer alles ontken. Sy woorde was skaars koud of die haan het gekraai.

28. Van Kajafas se huis af het hulle Jesus na die plek toe gevat waar die Romeinse heerser gewoonlik die gevangenes verhoor het. Dit was in die sterk vesting waar Pilatus gebly het. Dit was nog baie vroeg daardie oggend. Die Jode het egter nie in die binneplein van die vesting ingegaan nie, want hulle paasfees was mos aan die gang. Daarom wou hulle nie dinge doen wat hulle onrein sou maak nie. Dit sou beteken dat hulle nie die paaslam kon eet nie. Dit wou hulle nie waag nie.

29. Pilatus het toe maar uit die vesting na die Jode toe gestap. “Laat ek hoor,” sê hy. “Wat is julle aanklag teen hierdie man?”

30. Die Jode val toe vinnig weg: “As hy nie so ’n klomp slegte dinge aangevang het nie, sou ons mos nie die moeite gedoen het om hom te vang en na u toe te bring nie,” sê hulle.

31. “In daardie geval kan julle hom mos sommer self verhoor. Julle het mos wette wat vir julle sê wat om te doen,” antwoord Pilatus.“Nee, ons kan nie,” kap die Jode terug. “Ons word mos nie toegelaat om iemand tot die dood te veroordeel nie.”

32. So het nog iets waar geword wat Jesus voorspel het. Hy het mos voor die tyd vir hulle vertel op watter manier Hy sou doodgaan.

33. Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?”

34. Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?”

35. “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?”

Johannes 18