Johannes 17:13-21 Die Boodskap (DB)

13. Ek is nou op pad terug na U toe. Daarom gesels Ek met my volgelinge oor al hierdie dinge terwyl Ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur.

14. Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is.

15-16. Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie. Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou.

17. Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders as die waarheid belangstel nie. “Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken u boodskap.

18. Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap. “Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het.

19. Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat vind. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle hulle bes probeer vir wat waar en eg is.”

20. “Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar.

21. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.

Johannes 17