Johannes 13:27-35 Die Boodskap (DB)

27. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!”

28. Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen.

29. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê.

30. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker.

31. Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur. Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is.

32. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie.

33. My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min. Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie. Julle sal nie kan kom waar Ek gaan nie. Ek het dit mos al vir die Jode gesê.

34. Nou sê Ek dit vir julle ook.“Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van julle. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê.

35. “Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ‘praat’. Mense moet daarna kyk en sê: ‘Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’”

Johannes 13