Job 9:3-23 Die Boodskap (DB)

3. As ’n mens God wil aanvat, gaan jy tweede kom. Jy sal Hom nie eens een uit 1 000 keer kan antwoord nie.

4. Die Here weet baie en Hy is ontsettend sterk. Daar is nie ’n mens wat teen Hom kan opstaan en dit oorleef nie.

5. “Voordat die berge nog weet dit gaan gebeur, skuif God hulle. As Hy kwaad word, keer Hy hulle sommer onderstebo.

6. Hy skud die aarde dat dit voel of die aarde nie meer op sy ou plek staan nie. Hy laat die fondamente van die aarde bewe.

7. Hy sê vir die son om nie meer te skyn nie, en dan kom die son nie op nie. Hy keer ook dat die lig van die sterre deurkom.

8. Hy het die hemel alleen soos ’n doek uitgesprei. As Hy wil, loop Hy sommer op die branders van die see.

9. Hy het al die sterre gemaak. Hy het die Beer en Orion gemaak. Dan ook nog die Sewester en die Suiderkruis.

10. Mense kan nie die groot dinge verstaan wat die Here doen nie. Dit is bokant hulle vuurmaakplek. Hy doen ook so baie wonders, dit kan nie eens getel word nie.

11. Die Here gaan hier by my verby, en ek sien Hom nie eens nie. Ek sal nie eers daarvan weet as Hy verder gaan nie.

12. As Hy iets wil wegruk, is daar niemand wat in sy pad kan staan nie. Wie sal waag om Hom te vra: ‘Wat doen U?’

13. God hou nie sy woede in toom nie. Hy verbrysel selfs sterk magte wat teen Hom in opstand kom.”

14. Job het gevra: “Wie is ek sodanig dat ek vir die Here sal probeer antwoorde gee? Ek kan nie eens dink ek moet met Hom stry nie.

15. Selfs al is ek onskuldig, kan ek my nie teen Hom verdedig nie. Al wat ek regtig kan doen, is om Hom mooi te vra om maar ’n bietjie genadig met my te wees.

16. Selfs as ek na Hom roep en Hy my antwoord, twyfel ek of Hy na my sou luister.

17. Die Here het my sonder enige rede hard geslaan. Dit het vir my gevoel of ’n storm my tref. Nou het Hy my wonde net nog meer gemaak.

18. Hy laat my nie eens toe om ’n bietjie asem te skep nie. Hy laat my bitter, bitter swaarkry.

19. Hy het al die krag; niemand kan met Hom kragte meet nie. As dit gaan oor wat reg is, wie sal Hom vir my voor die hof daag?

20. Al doen ek dinge reg, praat ek of ek skuldig is. Al glo ek dat ek onskuldig is, sal daar bewys word dat ek verkeerd is.

21. “Ek is onskuldig,” het Job gesê, “ek gee niks om vir my lewe nie. Om die waarheid te sê, ek haat my lewe.

22. Maar dit maak nie eintlik saak of ek onskuldig of skuldig is nie, dit is een en dieselfde vir Hom. Hy vernietig skuldige en onskuldige mense.

23. As die een of ander ramp onskuldige mense skielik tref en hulle gaan dood, lag Hy oor hulle ellende.

Job 9