Job 38:11-29 Die Boodskap (DB)

11. Ek het gesê: ‘Jy mag net tot hier kom en nie verder gaan nie. Hier moet jou skuimende golwe stop!’

12. “Job, het jy al ooit vir die oggend gesê om te begin en die dag laat verstaan wanneer om te breek?

13. Die daglig versprei tot by die verste dele van die aarde. Die lig wat oral skyn, maak dit onmoontlik vir die misdadigers om weg te kruip. Die lig skud hulle uit hulle wegkruipplekke uit.

14. As die dag breek, sien ’n mens eers net die vorm van die berge en die valleie op die aarde. Dit lyk soos ’n vorm wat in klei afgedruk is of die voue van ’n stuk klere.

15. Die lig maak dit vir die misdadigers moeilik om mense te pla. Dit keer hulle om met hulle geweld voort te gaan.

16. “Job, het jy al gaan kyk na die bronne waaruit die see borrel? Het jy al diep in die see op die bodem rondgeloop?

17. Het iemand al vir jou gewys waar die hekke van die dood is? Het jy die ingang na die doderyk gesien?

18. Het jy enigsins ’n idee hoe groot die aarde is? Sê vir My as jy dit alles weet!

19. “Weet jy waar die lig vandaan kom? Ken jy die blyplek van die donker?

20. As jy dit weet, sal jy hulle mos daarheen kan terugvat.

21. Maar natuurlik weet jy dit. Jy was toe mos al gebore en jy leef mos al lank.

22. “Was jy al by die plekke waar die sneeu gebêre word? Het jy al die plekke gesien waar die hael opgegaar word?

23. Ek het dit daar reggehou vir tye wanneer daar moeilikheid en oorlog sal wees.

24. Hoe kom ’n mens by die plek uit waar die son opkom? Waar begin die oostewind oor die aarde waai?

25. “Wie het ’n kanaal oopgekap vir die reën wat neerstort? Wie het ’n pad vir die donderstorm oopgemaak?

26. Wie maak dat die reën op die dorre woestynland val waar nie ’n enkele mens te sien is nie?

27. Wie sorg dat ’n droë en dor land nat word sodat daar gras in die grond kan groei?

28. “Het die reën ’n pa? Waar kom dou vandaan?

29. Wie is ryp en ys se ma? Waar kom dit vandaan?

Job 38