Job 3:10-26 Die Boodskap (DB)

10. Dit is ’n groot jammerte dat ek daardie nag gebore is. Nou sit ek met hierdie groot ellende in my lewe.”

11. Job het verder gegaan en gesê: “Hoekom is ek nie doodgebore nie?

12. Hoekom het my ma my laat lewe en my versorg? Hoekom het sy my melk gegee om te kon lewe?

13. As ek by my geboorte dood is, sou ek nou geslaap het. Ek sou rus en vrede gehad het.

14. Ek sou nou saam met belangrike mense soos konings en beroemde leiers gerus het.

15. Ek sou gerus het saam met ryk prinse wat huise gehad het met baie goud en silwer in.

16. Hoekom was ek nie maar ’n miskraam nie? Dan het ek nooit eers begin lewe nie.

17. Slegte mense hou op om kwaad te doen as hulle dood is en moeë mense kry kans om te rus.

18. Selfs mense wat gevangenes is, ontspan as hulle dood is. Die bewaarder verskree hulle nie daar nie.

19. Daar is ryk en arm mense gelyk. Daar is ’n werker vry van sy baas.

20. “Hoekom laat die Here mense lewe wat swaarkry? Hoekom lewe mense wat verbitterd is?

21. Hulle wens hulle kan doodgaan, maar dit gebeur nie. Hulle wil so graag doodgaan dat dit erger is as iemand wat fanaties na ’n skat soek.

22. Hulle kan nie aan iets dink wat hulle blyer sal maak as om dood en begrawe te wees nie.

23. Hoekom moet ’n mens lewe as dit lyk of daar nie ’n toekoms is nie en jy deur God van alles afgesny is?

24. Ek sug so baie, dit is soos my kos wat ek eet. Ek leef daarvan. My gekla is soos water wat net aanhou loop.

25. Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur.

26. Ek het nie kalmte en vrede nie. In plaas daarvan dat ek rustig voel, loop alles net verkeerd.”

Job 3