Job 13:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Wat dink julle sal gebeur as Hy in julle sake begin krap? Julle moet nie vir ’n oomblik dink dat julle Hom om die bos kan lei soos julle met mense maak nie.

10. Hy sal hard met julle praat as Hy moet uitvind dat julle partydig is. Dit maak nie eens saak of julle vir Hom partydig is of dink julle doen dit in die geheim nie.

11. Hy is magtig. Maak dit julle nie bang nie? Gryp vrees vir Hom julle nie vas nie?

12. Die slim goed wat julle kwytraak, is nie veel meer werd as uitgebrande as nie. Die argumente wat julle gebruik om julleself te verdedig is so broos soos ’n kleipot.”

13. Job het verder gesê: “Bly net ’n slag stil en los my uit! Ek wil my sê sê, maak nie saak wat met my gebeur nie.

14. Ek sal my lewe in my eie hande neem om te kan sê wat ek regtig dink.

15. Ek weet God kan my doodmaak, maar dit maak nie saak nie. Daar is in elk geval nie meer hoop vir my nie. Ek wil by God uitkom en my saak stel.

16. Wat my redding behoort te wees is dat slegte mense dit nie sal waag om na Hom toe te kom nie. Ek is nie soos hulle nie, ek is gehoorsaam.”

17. Job het gesê: “Luister mooi wat ek nou gaan sê.

18. Ek het my feite mooi agtermekaar. Dit sal gou duidelik wees dat ek onskuldig is.

19. Ek dink nie daar is iemand wat hieroor met my kan stry nie. As ek verkeerd bewys word, sal ek tot die dag dat ek doodgaan my mond hou.”

20. Job het vir die Here gesê: “Daar is twee dinge wat ek wil vra wat U vir my moet doen. As U dit doen, hoef ek nie meer vir U weg te kruip nie.

21. Eerstens vra ek dat U my nie meer so swaar sal laat ly nie. Tweedens, moenie dat u geweldige teenwoordigheid my so bangmaak nie.

22. Vra maar wat U wil weet en ek sal antwoord. As U dit anders wil hê, sal ek eerste praat en U kan antwoord.

23. Het ek baie goed verkeerd gedoen? Wys my alles wat nie reg is nie of waar ek oortree het.

24. Hoekom steur U U nie aan my nie? Hoekom maak U asof ek u vyand is?

Job 13