Jesaja 60:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Lang karavane van kamele sal uit Midian en Efa op jou toesak. Hulle sal uit Skeba aankom met goud en wierook om die Here te aanbid.

7. Jy kan die kleinvee van Kedar en die bokramme van Nebajot gebruik soos jy wil. Jy kan hulle enige tyd op die altaar vir die Here kom offer. Hulle is ’n aanwins vir sy tempel.

8. Wat is dit wat soos wolke hier aangesweef kom, soos duiwe wat terugkom hok toe?

9. Dit is die skepe van die ander lande wat jou kinders weer huis toe bring. Vooraan is die skepe van Tarsis. Hulle is gelaai met goud en silwer om die Here jou God, die groot God, te vereer. Hy wil sy volk in ere herstel.

10. Buitelanders sal jou mure weer opbou. Hulle konings sal vir jou werk. Toe Ek vir jou kwaad was, het Ek jou gestraf. Noudat Ek jou jammer gekry het, sal Ek weer vir jou goed wees.

11. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek.

12. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn.

13. Die beste hout uit die Libanon sal na Jerusalem gebring word. Sipres-, plataan- en dennehout sal gebruik word om my tempel mooi te maak. Ek sal die plek waar Ek aanbid word, mooi laat maak.

14. Die volke wat jou onderdruk het, sal by jou kom verskoning maak. Almal wat op jou neergesien het, sal onderdanig wees en by jou voete kom kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, en: Sion van die heilige God van Israel.

15. Jy was vroeër ’n eensame en verlate plek waarby niemand wou kom nie. Ek maak jou nou ’n pragtige plek wat een geslag mense na die ander graag wil besoek.

16. Nasies sal vir jou gee wat jy nodig het. Konings sal jou soos ’n ma versorg.Jy sal dan besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos het. Die magtige God van Jakob het jou vrygemaak.

Jesaja 60