9. Laat al die nasies bymekaarkom. Maak die volke bymekaar vir ’n hofsitting. Watter god onder hulle kan dinge voorspel? Watter een kan vooraf sê wat gaan gebeur? Laat hulle hulle getuies bring wat dit kan bewys. Laat die een wat hulle verhoor, besluit of hulle die waarheid praat.
10. Julle is my getuies, Israel, sê die Here. Julle behoort aan My. Ek het julle vir My gekies sodat julle My kan ken. Ek het julle gekies dat julle in My kan glo en kan verstaan dat net Ek God is. Daar was nie ’n god voor My nie. Na My sal daar ook geen ander god wees nie.
11. Ek, Ek self is die Here. Daar is niemand anders wat julle kan red behalwe net Ek nie.
12. Ek het voor die tyd gesê Ek sal julle red. Ek het dit gedoen. Ek het seker gemaak dat julle weet dat dit Ek was wat julle gered het. Daar was nie ’n ander god tussen julle wat dit kon doen nie. Julle is my getuies, sê die Here, net Ek is God.
13. Nou en vir altyd is Ek God. Niks kan by My weggevat word nie. Wat Ek doen, kan niemand verander nie.
14. Die hoë God van Israel wat jou red, die Here, het gesê: Ek stuur iemand om teen Babel te gaan veg, sodat julle gered kan word. Ek laat die Galdeërs wat daar woon, vlug. Hulle vlug in die skepe waarmee hulle so gespog het.
15. Ek is die Here, jou hoë God. Ek het Israel gemaak. Ek is julle Koning.
16. Dit is die Here wat hier praat. Ek het destyds ’n pad deur die see gemaak. Ek het ’n deurgang deur die bruisende water gemaak.
17. Ek het perde en oorlogswaens, ’n hele leërmag, vernietig. Hulle het tot ’n val gekom. Hulle sal nooit weer daar opstaan nie. Dit is verby met hulle soos ’n lamp wat doodgeblaas is.
18. Die Here sê: Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie.
19. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur. Dit het alreeds begin. Kom julle dit nie agter nie?Ek maak deur die woestyn ’n pad vir my volk om terug te kom. Ek laat riviere deur verlate plekke loop.
20. Die jakkalse en die volstruise, al die wilde diere in die veld sal daarvoor vir My kom dankie sê. Ek het water in die woestyn gegee vir hulle om te drink. Ek het riviere deur eensame gedeeltes laat loop sodat die volk wat Ek vir My gekies het, daaruit kan drink.
21. Hulle is die volk wat Ek vir My bymekaargemaak het om My te loof en te prys.