9. Nie lank daarna nie het nog ’n berig by Sanherib aangekom. Die berig het gesê dat Tirhaka, die koning van Kus, op pad was om hom aan te val. Voor hy daar weg is om teen Tirhaka te gaan veg, het hy weer vir Hiskia ’n boodskap gestuur:
10. “Moenie dat jou God jou mislei met praatjies dat ek nie in staat is om Jerusalem in te neem nie.
11. Jy weet baie goed dat die konings van Assirië nog altyd elke land verwoes het wat hulle aangeval het. Wat maak jou so anders?
12. Was daar enige van die ander volke se gode wat hulle mense kon red? My voorgangers het hulle almal vernietig. Noem hulle op: Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar.
13. Waar is die konings van Hamat, Arpad, Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14. Nadat Hiskia die boodskap gelees het, is hy tempel toe daarmee. Daar het hy die brief vir die Here voorgelees
15. en gebid:
16. “Almagtige Here, God van Israel, U wat op u troon bokant die gerubs sit, U alleen is God van al die koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.
17. Here, luister wat sê Sanherib en kyk wat doen hy. Hierdie boodskap wat hy gestuur het, dryf die spot met U, die lewende God!
18. Here, ons weet almal dat hy die waarheid praat oor al die nasies wat die Assiriese konings al verwoes het,
19. en hoedat hulle hulle gode gevat en in die vuur gegooi het om te verbrand. Maar ons weet hoekom hulle dit kon regkry. Dit was nikswerd afgode, beelde van hout en klip wat deur mense gemaak is.
20. Daarom bid ek: Here ons God, beskerm ons teen die aanvalle van die Assiriërs. Dan sal al die mense van die wêreld besef dat net U, Here, werklik God is.”
21. Hierop het Jesaja die volgende boodskap van die Here vir Hiskia gestuur: Die Here die God van Israel het jou gebed oor Sanherib, die koning van Assirië, gehoor.
22. Vir hom het die Here die volgende boodskap: Die stad Sion spot met jou en verag jou, Sanherib. Jerusalem steek vir jou tong uit en kyk jou met minagting agterna terwyl jy wegvlug.