Jesaja 11:1-5 Die Boodskap (DB)

1. Ten spyte daarvan dat die nageslag van Dawid getref word soos ’n boom wat afgekap word, sal daar tog weer uit die stomp van Isai wat oorbly, ’n takkie begin groei. Uit die ou wortel wat nog in die grond was, sal ’n nuwe tak uitkom wat sal vrugte dra.

2. Die Gees van die Here sal in hom wees en sal hom help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem. Die Gees sal hom toerus om ’n vaardige koning te wees wat weet wat hy wil doen. Hy sal onder leiding van die Gees in ’n intieme verhouding met die Here leef en Hom met eerbied dien.

3. Dit sal vir hom ’n vreugde wees om die Here te dien. Hy sal nie mense op hulle baadjie takseer of toelaat dat skinderpraatjies hom mislei as hy ’n besluit moet neem nie.

4. Hy sal die armes se hofsake regverdig behartig en die behoeftiges se regte beskerm. Maar teen die goddeloses sal hy genadeloos optree en hulle uitroei.

5. Hy sal sy mense regverdig behandel en met integriteit optree.

Jesaja 11