Jeremia 51:46-55 Die Boodskap (DB)

46. Moenie bang wees en angstig word as julle die eerste nuus in die land hoor van moeilikheid wat kom nie. Elke jaar sal daar sulke stories loop van geweld en van leiers wat teen mekaar baklei.

47. Die tyd kom dat Ek Babel se afgode gaan straf. Die hele land en sy mense sal verneder word. Dit sal so erg wees dat die lyke sommer oral tussen hulle sal rondlê.

48. Die leërs van die gewelddadige vyand sal uit die noorde teen Babel optrek. Wanneer dit gebeur, sal die hemel en die aarde en almal wat daarin is, sing van blydskap oor wat met Babel gebeur.

49. Die mense van Babel het baie van Israel se mense doodgemaak. Hulle het ook baie ander mense oor die wêreld doodgemaak. Nou is dit hulle beurt om net so doodgemaak te word.

50. “Julle mense van Juda wat die oorlog oorleef het, begin beweeg! Moenie nou staan en talm nie! Julle is miskien nou nog in ’n ver land, maar dink aan My, die Here. Maar droom ook ’n slag ’n bietjie oor Jerusalem waar julle huise is.”

51. Julle sê: “Ons is verneder. Hulle het gekke van ons gemaak. Ons is skaam omdat vreemde mense in die tempel van die Here ingegaan het. Die ergste is dat hulle in ’n deel van die tempel ingegaan het waar net die hoëpriester mag ingaan.”

52. Die Here het geantwoord: “Die tyd kom dat Ek die beelde wat van die afgode van Babel gemaak is, sal verwoes. Deur die hele land sal die gekreun van gewonde mense ook gehoor word.

53. Dit is so dat Babel so hoog gebou is dat dit amper aan die hemel raak. Die stad se torings is ook sterker gemaak om aanvalle te kan weerstaan. Al is dit so, Ek sal vyande stuur om Babel aan te val. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”

54. Hoor hoe skree hulle in Babel. ’n Mens hoor die groot lawaai soos die land vernietig word.

55. Die Here is besig om Babel te verwoes. Hy sal die rumoer in die stad laat stil word. Die vyand sal met ’n gedreun teen die stad aanstorm soos die golwe van ’n massa water. Hulle skree oorlogskrete terwyl hulle die stad bestorm.

Jeremia 51