Jeremia 51:15-33 Die Boodskap (DB)

15. Die Here het die aarde deur sy krag gemaak. Deur sy kennis het Hy die wêreld gemaak en deur sy insig het die uitgestrekte hemel vorm gekry.

16. As Hy praat, is daar donderweer in die hemel. Hy laat die wolke oor die aarde opkom. Verder laat Hy ook die weerlig slaan as dit reën. Hy laat die wind uit sy stoorkamers uitkom.

17. As mense met Hom vergelyk word, lyk hulle maar baie dom. Dit lyk of hulle net mooi niks weet nie. Die goudsmede maak afgodsbeelde, maar hulle kom in die skande. Hierdie beelde is ’n kullery, want hulle haal nie asem nie.

18. Afgode is eintlik nutteloos, niks anders as ’n bedrogspul nie. As die tyd kom om straf uit te deel, sal niks van hulle oorbly nie. Hulle sal vernietig word.

19. Maar die God van Israel is nie ’n afgod soos hulle nie. Hy het alles wat bestaan, gemaak. Deel hiervan is sy eie volk. Israel is sy besitting wat Hy baie spesiaal vir Hom uitgesoek het. Hy is die Here wat sterker is as alles en almal!

20. Die Here sê: “Babel, jy is my hamer waarmee Ek oorlog maak. Ek sal jou gebruik om volke mee stukkend te slaan. Ek sal met jou hulp koninkryke verwoes.

21. Ek sal jou gebruik om perde en ruiters uitmekaar te slaan en ook oorlogswaens met hulle bemanning.

22. Met jou hulp sal Ek mans, vroue, oumense, kinders en jongmense uitwis.

23. Verder sal Ek jou gebruik om herders en hulle vee uit te roei. Ek sal ook met jou hulp boere en hulle osse tot niet maak. Ek sal julle gebruik om offisiere en mense wat regeer te vernietig.”

24. Die Here sê ook: “Ek sal Babel en die Babiloniërs terugkry vir al die kwaad wat hulle aan my volk in Jerusalem gedoen het. Julle sal dit voor julle oë sien gebeur.”

25. Vir Babel sê die Here: “Dit kan jy maar weet, Babel, Ek is jou vyand. Jy is soos ’n berg wat die hele wêreld verwoes. Groot en sterk. Maar Ek sal jou teen die hange van die berg laat afrol. Al wat van jou sal oorbly, sal die as wees nadat jy verbrand is.

26. Jy sal vir altyd verwoes lê. Niemand sal eers uit jou rommel ’n klip vir ’n hoeksteen of ’n fondasie gebruik nie.”

27. Gee ’n teken aan die nasies en blaas op ’n trompet sodat almal kan weet om oorlog teen Babel te kom maak. Roep die volke en lande met konings soos Ararat, Minni en Askenas op vir die oorlog teen Babel. Stel dan ’n bevelvoerder aan om die soldate in die oorlog te lei. Gebruik ook so baie perde dat hulle soos ’n swerm sprinkane sal lyk.

28. Laat die leërs van die konings van Medië en ook hulle leiers en amptenare gereedmaak vir die aanval. Sluit ook by hierdie mag al die leërs in van die volke waaroor hulle beheer het.

29. Die Here sê: “Die land skud en bewe van pyn en swaarkry, want Ek, die Here, is besig om te doen wat Ek teen Babel beplan het. Ek sal Babel ’n verlate plek maak waar niemand meer sal bly nie.

30. Die situasie is maar beroerd! Die soldate van Babel baklei nie meer nie. Hulle sit nie ’n voet uit hulle versterkte skuilings nie. Hulle moed is gebreek, hulle het bang mense geword. Die huise in die stad is aan die brand en selfs die stadshekke is afgebreek.

31. Van oraloor kom boodskappers aangehardloop met nuus vir die koning van Babel dat alles verlore is. Daar is nie meer hoop nie, want die stad is van alle kante af ingeval.

32. Daar is ook nie meer wegkomkans nie, want al die ontsnaproetes oor die riviere is afgesny. Verder is die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is lam van angs.”

33. Die Here is die God van Israel. Hy sê: “Babel is soos die plek waar die koring bewerk word. Die gebruik is om die koring met die voete te trap. Dit is wat met Babel gaan gebeur. Babel gaan soos koring geoes en vertrap word.”

Jeremia 51