6. Die Here die God van Israel het met Jeremia gepraat.
7. Hy het gesê: “Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om te kom uitvind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help.
8. Maar omdat hulle nou terugtrek, sal die Babiloniërs terugkom en weer teen die stad kom veg. Hulle sal Jerusalem inneem en afbrand.
9. Sê vir hulle Ek sê: Moenie julleself flous en dink die Babiloniërs sal wegbly nie. Hulle kom vir seker terug.
10. Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, dit sal niks help nie. Hulle sal doodgewoon optrek en Jerusalem aan die brand kom steek.”
11. Die leër van die Babiloniërs het teruggetrek van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was.
12. Jeremia wou toe weggaan van Jerusalem af na die grondgebied van Benjamin. Hy wou gaan kyk het na die stuk grond daar wat sy erfdeel sou wees.
13. Maar toe Jeremia by die Benjaminhek wou uitgaan, het ’n wag met die naam Jirija hom gevang en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.
14. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie waar nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs toe oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die senior amptenare toe gebring.
15. Hulle was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Sy huis is in ’n tronk verander.
16. Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit. Daar het hy ’n baie lang tyd gebly.
17. In ’n later stadium het koning Sedekia vir Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou by hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my, Jeremia?” Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het ’n boodskap vir u! U sal aan die koning van Babel oorgegee word.”
18. Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?
19. Waar is daardie profete nou wat vir u gesê het dat die koning van Babel nie teen u of hierdie land sal optrek nie?