Handelinge 28:11-27 Die Boodskap (DB)

11. Na drie maande op Malta het ons Italië toe vertrek aan boord van ’n skip uit Aleksandrië, wat daar oorwinter het. Die skip se naam was die Dioskuri.

12. Ons het tot in Sirakuse gevaar en drie dae daar oorgebly.

13. Van daar af het ons tot in Regium gevaar. Twee dae later het ons met behulp van ’n sterk suidewind in die hawe van Puteoli aangekom.

14. Daar het ons ’n groep Christene raakgeloop wat ons genooi het om by hulle oor te bly. Nadat ons sewe dae by hulle deurgebring het, is ons Rome toe.

15. Die gelowiges in Rome het gehoor dat ons op pad was. Sommige van hulle het ons langs die pad kom ontmoet. Een groep het ons reeds by die Appiusmark ingewag, en ’n ander groep by die Drie Herberge. Paulus was so bly dat hy daar voor almal vir God dankie gesê het. Nou het hy moed gehad vir dit wat voorlê.

16. In Rome is Paulus toegelaat om op sy eie in ’n huis te bly. ’n Romeinse soldaat het hom daar opgepas.

17. Drie dae na sy aankoms het Paulus al die Joodse leiers van die stad na sy huis genooi. Toe hulle almal in die huis bymekaar was, het hy vir hulle gesê: “Vriende, ek het niks verkeerds gedoen teen ons volk of teen ons godsdienstige tradisies nie. Tog is ek in Jerusalem gevang en aan die Romeine uitgelewer. Die Romeinse owerhede het die aanklagte teen my behoorlik ondersoek.

18. Hulle het toe vasgestel dat ek niks gedoen het wat die doodstraf verdien nie.

19. Hulle wou my toe loslaat. Party Jode het egter so sterk daarteen beswaar gemaak dat ek verplig was om my op die keiser te beroep. Maar moenie bekommerd wees nie.

20. Ek is nie van plan om my volk by die keiser in die moeilikheid te bring nie. Daarom het ek julle vandag hierheen laat kom. Ek wil hê julle moet weet dat ek steeds ’n lojale lid van my volk is. Ek is egter ’n gevangene omdat ek glo in Hom op wie se koms ons voorouers al die jare gewag het.”

21. Die Jode het daarop vir Paulus gesê: “Niemand uit Judea het ons laat weet dat jy Rome toe kom nie. Hier het ook niemand opgedaag wat iets slegs oor jou vertel het nie.

22. Ons sou egter graag wou hoor wat jy te sê het oor daardie nuwe sekte wat in Jesus glo. Die mense hier sê allerhande lelike dinge oor hulle.”

23. Hulle het besluit om ’n paar dae later weer bymekaar te kom. Op dié dag het ’n groot groep Jode in die gastekamer in Paulus se huis bymekaargekom. Daar het Paulus van vroegoggend tot laataand met hulle oor God se koninkryk gepraat. Hy het hulle probeer oorreed om in Jesus te glo. Hy het ook vir hulle gewys dat Moses en die profete reeds oor Jesus Christus geskryf het.

24. Party van die Jode is deur Paulus se woorde oortuig, maar ander het geweier om te glo wat hy sê.

25. Hierdie besoekers het onder mekaar aan die stry geraak. Toe hulle begin huis toe gaan, het Paulus die laaste woord gehad: “Die Heilige Gees was heeltemal reg toe Hy deur die profeet Jesaja vir ons voorouers gesê het:

26. ‘Gaan na my volk toe en sê vir hulle: Al hoor julle met julle ore, verstaan julle net mooi niks nie. Al kyk julle met julle oë, is julle eintlik blind.

27. Hierdie mense se harte is kliphard. Hulle ore is doof. Hulle oë is heeltemal toe. Daarom kan hulle niks sien of hoor nie. Hulle verstaan nie wat Ek besig is om te doen nie; daarom kom hulle nie terug na My toe sodat Ek hulle gesond kan maak nie.’

Handelinge 28