Handelinge 27:37-44 Die Boodskap (DB)

37. Nadat al 276 mense op die skip geëet het,

38. het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi.

39. Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand.

40. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar.

41. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan.

42. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar.

43. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem.

44. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik.

Handelinge 27