Handelinge 27:31-43 Die Boodskap (DB)

31. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister.

32. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf.

33. Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê.

34. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.”

35. Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet.

36. Vol moed het almal sy voorbeeld gevolg en ook begin eet.

37. Nadat al 276 mense op die skip geëet het,

38. het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi.

39. Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand.

40. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar.

41. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan.

42. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar.

43. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem.

Handelinge 27