Handelinge 27:14-30 Die Boodskap (DB)

14. Hierdie stormwind, wat die Eurakilon genoem word, het ons skip soos ’n stukkie papier meegesleur.

15. Ons kon dit glad nie op koers hou nie.

16. Toe ons later naby die eiland Kauda kom, het ons na ’n groot gesukkel ons reddingsbootjie, wat agter die skip met ’n tou vasgemaak was, aan boord gekry. Daarna het die matrose toue onder om die skip vasgemaak. Dit het die skip se romp versterk teen die storm.

17. Omdat hulle bang was dat die skip hom op die sandbanke te pletter sou loop, het hulle die dryfankers ook laat sak. Ons het begin wegdryf van die gevaarlike kuslyn af.Die storm het ons skip heen en weer op die see geslinger.

18. Die volgende dag is die vrag in die see gegooi om die skip ligter te maak.

19. En die dag daarna moes almal aan boord hand bysit om die skip se toerusting ook in die see te gooi.

20. Dae lank kon ons glad nie die son of die sterre sien nie. Omdat die storm net nie wou bedaar nie, het ons later alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.

21. Paulus het nou vir ons almal gesê: “Julle moes vroeër na my geluister het toe ek julle daar in Kreta gewaarsku het om nie verder te vaar nie. Dan sou julle hierdie ramp vrygespring het. Maar dit help nie om mekaar nou hieroor te verwyt nie.

22. Julle moenie moed opgee nie. Ek verseker julle: niemand aan boord sal iets oorkom nie. Net die skip sal vergaan.

23. “Gisteraand het ’n engel van die God wat ek dien aan my verskyn en gesê:

24. ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. Daarom sal God sorg dat jy lewend daar aankom. God het ook besluit om die lewe van almal saam met jou op die skip te spaar.’

25. “Hou daarom moed, vriende. Ek glo dat alles presies net so sal gebeur soos God gesê het.

26. “Ons gaan binnekort op ’n eiland strand.”

27. Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet.

28. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep.

29. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek.

30. ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit.

Handelinge 27