Handelinge 24:5-21 Die Boodskap (DB)

5. “Hierdie man wat voor u staan, is ’n baie groot gevaar vir ons almal. Hy versteur die rus en vrede onder die Jode oor die hele wêreld. Hy is een van die voorbokke in daardie sekte van die Nasareners.

6. Nou die dag het hy selfs probeer om ons tempel te verontreinig. Maar gelukkig het ons hom net betyds gevang.

8. As u hom nou self ondervra, sal u agterkom dat al hierdie dinge waarvan ons hom aankla, die reine waarheid is.”

9. “Ja, ja, dit is waar,” het al die ander Joodse afgevaardigdes opgewonde uitgeroep.

10. Die goewerneur het met sy hand vir Paulus beduie dat dit nou sy beurt was om te praat. Paulus het toe gesê: “Ek weet dat u reeds baie jare oor ons regeer. Daarom is ek baie bly dat ek my saak voor u kan stel.

11. Ek het skaars twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom. Ek wou God daar gaan aanbid.

12. Dis al. Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek met een enkele persoon in die tempel gestry of dat ek ’n opstand onder die mense veroorsaak het nie. Ek het ook nie in een van die sinagoges of iewers op straat amok gaan maak nie.

13. Ek sê weer: nie een van die beskuldigings wat hierdie mense teen my ingebring het, kan bewys word nie.

14. “My aanklaers is wel reg op een punt: dat ek ’n lid is van daardie beweging van Christus wat hulle ’n sekte noem. Maar ek moet dadelik bysê dat ek nog steeds dieselfde God dien as wat my voorouers gedien het. Ek glo alles wat in ons Heilige Skrif staan. “En ek glo ook, net soos my voorouers,

15. dat God eendag al die dooies sal laat opstaan, goed en sleg. “Daarom luister ek na wat God sê.

16. Ek probeer ook nie om ander mense aanstoot te gee deur wat ek sê en doen nie.

17. “Ek was ’n hele paar jaar in die buiteland, ver van my mense af. In hierdie tyd het ek ’n groot geldelike bydrae vir hulle ingesamel.

18. Toe ek daarmee klaar was, het ek teruggekom om dit aan hulle te oorhandig. Ek wou ook in die tempel ’n offer aan God bring. Daarom het ek my eers weer in die tempel laat reinig sodat ek na my verblyf in die buiteland weer rein genoeg kon wees om ’n offer te bring. Ek het dit alles sonder ’n groot bohaai gedoen. Toe ek klaar was daarmee het ’n paar Jode uit Asië my in die tempel raakgeloop. Dit is hulle wat toe ’n groot lawaai opgeskop het. Eintlik moes hulle ook hier gewees het om my voor u aan te kla.

19. Daarom moet u maar hierdie mense wat my vandag aankla, vra watter misdaad ek dan gepleeg het.

20. Hulle moet verduidelik waarom ek hier voor u teregstaan. Want ek self het nie ’n idee wat ek verkeerd gedoen het nie. Al wat hulle teen my het, is daardie een sinnetjie wat ek uitgeskree het toe ek nou die dag voor hulle Raad verskyn het.

21. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’”

Handelinge 24