5. “Hierdie man wat voor u staan, is ’n baie groot gevaar vir ons almal. Hy versteur die rus en vrede onder die Jode oor die hele wêreld. Hy is een van die voorbokke in daardie sekte van die Nasareners.
6. Nou die dag het hy selfs probeer om ons tempel te verontreinig. Maar gelukkig het ons hom net betyds gevang.
8. As u hom nou self ondervra, sal u agterkom dat al hierdie dinge waarvan ons hom aankla, die reine waarheid is.”
9. “Ja, ja, dit is waar,” het al die ander Joodse afgevaardigdes opgewonde uitgeroep.
10. Die goewerneur het met sy hand vir Paulus beduie dat dit nou sy beurt was om te praat. Paulus het toe gesê: “Ek weet dat u reeds baie jare oor ons regeer. Daarom is ek baie bly dat ek my saak voor u kan stel.
11. Ek het skaars twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom. Ek wou God daar gaan aanbid.
12. Dis al. Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek met een enkele persoon in die tempel gestry of dat ek ’n opstand onder die mense veroorsaak het nie. Ek het ook nie in een van die sinagoges of iewers op straat amok gaan maak nie.
13. Ek sê weer: nie een van die beskuldigings wat hierdie mense teen my ingebring het, kan bewys word nie.
14. “My aanklaers is wel reg op een punt: dat ek ’n lid is van daardie beweging van Christus wat hulle ’n sekte noem. Maar ek moet dadelik bysê dat ek nog steeds dieselfde God dien as wat my voorouers gedien het. Ek glo alles wat in ons Heilige Skrif staan. “En ek glo ook, net soos my voorouers,
15. dat God eendag al die dooies sal laat opstaan, goed en sleg. “Daarom luister ek na wat God sê.