Handelinge 20:18-32 Die Boodskap (DB)

18. “Vandat ek in Asië aangekom het, het ek daar by julle gebly. In nederigheid het ek alles gedoen wat die Here van my verwag het. Die Jode was baie kwaad oor alles wat ek vir die mense oor Jesus vertel het.

19. Hulle het die een plan na die ander uitgedink om van my ontslae te raak. Daaroor was ek baie hartseer. Al was my werk hoe swaar, het ek nogtans aangehou om die goeie nuus oor Jesus bekend te maak. Ek het nooit ’n enkele deeltjie van die evangelie uitgelaat nie.

20. Ek het die volle waarheid aan julle almal vertel, in die openbaar en ook in julle eie huise. Ek het ook by al die inwoners van julle stad, of hulle nou

21. Jode of Grieke was, gepleit dat hulle hulle tot God moet bekeer deur in ons Here Jesus te glo.

22. “Nou moet ek egter ’n nuwe koers inslaan.

23. Die Heilige Gees wil hê ek moet Jerusalem toe gaan. Ek weet nie wat alles daar op my wag nie. Al wat ek weet, is dat dit nie maklik gaan wees nie. In elke plek waar ek tot nou toe was, het die Heilige Gees my duidelik laat verstaan dat swaarkry en tronkstraf my voorland is. Tog is ek nie daaroor bekommerd nie.

24. My eie veiligheid is in elk geval nie belangrik nie. “Al wat saak maak, is dat ek doen wat die Here vir my sê om te doen. En dit is om die goeie nuus oor God se goedheid bekend te maak.

25. “Dag na dag het ek met julle oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar nou moet ek finaal van julle afskeid neem. Ons sal mekaar nie weer sien nie. Ek troos my egter daaraan dat ek julle die volle waarheid oor God vertel het.

26. Daarom sê ek vandag reguit vir julle: as iemand van julle nou nog nie in God glo nie, is dit regtig nie my skuld nie.

27. Ek het God se hele reddingsplan aan julle meegedeel, elke stukkie daarvan.”

28. “Julle is die leiers in die kerk. Sorg dat julle self altyd op God se pad bly. Onthou: die Heilige Gees het julle aangestel om te sorg dat ander gelowiges ook op God se pad bly stap. Julle moet hulle help en hulle leer om te doen wat Hy vra. Julle is soos skaapwagters wat die Here se skape moet beskerm en versorg. Almal in die kerk behoort aan God. Hy het baie duur vir elkeen betaal. Jesus se bloed het elke gelowige uit die mag van die sonde en die dood losgekoop.

29. “Sodra ek vertrek, sal ’n klomp slegte mense na julle toe kom wat onwaarhede oor Jesus aan julle sal kom vertel. Hulle het net een doel voor oë: om gelowiges deurmekaar te maak met hulle skewe leringe.

30. Hulle is soos wrede wolwe wat daarop uit is om die skape te vang. Loop ook lig vir party gelowiges wat vreemde dinge oor Jesus kwytraak en die kerk probeer verlei om dinge te glo wat ek nie vir julle geleer het nie.

31. “Wees op die uitkyk vir al hierdie onwaarhede. Waarsku die gelowiges daarteen. Onthou: ek het drie jaar lank dag en nag onder julle gewerk en julle baie ernstig gevra om op die regte pad te bly. Daarom mag julle nie toelaat dat die ware evangelie nou deur slegte mense vervals word nie.”

32. “Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle geloof in Hom sterk maak.

Handelinge 20